Sunday, 30 December 2012

Die wonder van ontdek: Tasmanië; 1

Om werklik `n nuwe plek te ontdek verg dikwels meer as om net deur te reis en te kyk, dit verg tyd, baie tyd, en dit is nie altyd beskikbaar nie ! In ons geval was ons plan om `n groot deel van Tasmanië in sewe dae te sien, wel om `n groot deel te sien was moontlik, maar om werklik die land en al die diversiteit wat dit bied te ervaar was nie moontlik nie, maar by Port Arthur was dit anders!

Dag Twee: Port Arthur ; Tasmanië

 
Op Port Arthur het die tyd stil gaan staan en het ons verlore geraak in die geskiedenis van `n plek met groot historiese waarde nie net vir Australië nie maar vir die hele internasionale gemeenskap, want  u sien Port Arthur was  baie meer as `n tronk, dit was `n hele gemeenskap met `n  invloed wat wyd gestrek het.

Port Arthur was die woonplek van militêre personeel en vry setlaars, politieke gevangenis maar dit was hoofsaaklik `n tronk en daarom het baie van die aktiwiteite rondom die gevangenis gedraai en die meeste van die 30 geboue was daar om die gevangenis te huisves en besig te hou, nee baie meer as besig te hou, daar is van lanbou tot industrië gevestig wat `n groot verskeidenheid hulpbronne en materiaal geproduseer het.

Op Sondag 28 April 1996, is `n tragiese hoofstuk tot Port Arthur se geskiedenis gevoeg toe `n gewapende man die lewens van 35 mense geneem het en 19 ander gewond het in en om Port Arthur.

Agtergrond:
Die Port Arthur strafkamp was gevestig in 1830 as `n hout verkrygings kamp, en gevangenis is gebruik om stompe in werkbare planke op te saag vir goewermentsprojekte. Van 1833 was Port Arthur as `n strafkamp vir herhaalde oortreders van al die Australiese kolonies gebruik.

Die Engelse gevangenis hervormer Jeremy Bentham het op daardie stadium `n radikale nuwe tughuis of tronk in Pentonville, Engeland ontwikkel wat hy beskryf het as `n masjien om skurke in eerbare mense te verander deur hulle deur die maalproses van sy model te vat, en hierdie het die model vir Port Arthur geword.

Die ratte van hierdie masjien het dissipline en straf, morêle en geestelike instruksies, klassifikasie en afsondering en opleiding en opvoeding ingesluit. Baie van hierdie mense en veral manne is deur hierdie proses gebreek, maar ander het Port Arthur verlaat as gerihabiliteerde en bekwame manne, sommige as grofsmede, skoenmakers en skeepsbouers.

Daar is soveel hartseer verhale en verhale van
hoop en verwagting dat `n enkele dag beslis nie genoeg is om hierdie gekiedkundige plek te ontdek nie.

Een van die tronke wat ons besoek het was die "Seperate prison" waar al die ernstige misdadigers aangehou is, hier het `n vreemde gevoel ons oorweldig en ons kon die smart en lyding wat daar deurgemaak is ervaar. Een van die strafmaatreëls was totale stilte en geen kommunikasie is toegelaat nie, selfs die bewaarders het gebare taal gebruik gebruik om mee te kommunikeer, al wat hoorbaar was, was die klank van grendels,slotte en kettings.

Die tuine en omgewing is asemrowend mooi en net om deur hierdie geskiedkundige plek te stap was `n belewenis wat lank onthou sal word. Die tyd wat ons daar spandeer het was elke oomblik die geld en moeite werd. Dankie D & E

bronne: Visitors Guide, Port Arthur Historic Site.
              Persoonlike ervarings en foto`s

Groete tot volgende keer.

Adriaan





Saturday, 29 December 2012

Die wonder van ontdek vervolg

Ek is baie jammer oor die lang stilte na die eerste blog.

Wel ek is terug en wil graag voortbou op die eerste blog en wat alles opgesluit lê in die wonder van ontdek,

Wanneer `n reis na `n onbekende bestemming beplan word, vorm `n mens gewoonlik jou eie persepsie oor `n plek en dikwels is dit verrassend anders as wat jy verwag het en dit kan of posetief of negatief wees, maar dit is juis die lekker van ontdek want wat vir een persoon sy land en woonplek is, is vir die volgende persoon `n totaal nuwe ervaring van kultuur en leefwyse en dit is vir my die essensie van ontdek.

Om in `n vreemde land of selfs `n onbekende deel van jou eie land te reis is baie meer as om net `n nuwe land of streek te sien, die geheim is om dieper te kyk, om die mense en hulle gewoontes, hulle kleredrag, eetgewoontes ens. raak te sien, verder kan die plant- en diereryk totaal verskil van jou eie streek, verder het elke streek of land ook sy eie geskiedenis en agtergrond tot die ontstaan van die gebied en dit maak die ontdekking soveel meer interresant.

Ons het die voorreg gehad om deur en om Tasmanië te toer met `n motorwoonwa en gedurende hierdie wonderlike reis soveel te ontdek van `n deel van Australië wat ons net van gedroom het, en ek wil graag hierdie ''ontdekkingsreis" met julle deel.

Ons reis het met `n skeepsvaart op die "Spirit of Tasmania 2" begin, `n vaart van Melbourne tot by Devonport, en wat `n goeie begin vir `n reis na die onbekende, ons het lekker gekuier, `n lekker ete geniet en toe deur die nag gevaar, toe die son opkom is ons reeds in Devonport, `n nuwe dag vol ontdek het vir ons gewag, wat `n avontuur.


Dag een: Tasmanië: Ons huur `n motor by Devonport en ons reis begin van die noorde oor die eiland tot by by Hobart aan die suidooste van Tasmanië. Ons doel was om `n motorwoonwa by Hobart te huur en dan van daar verder te toer, sonder te veel beplanning, slegs rigting en ontdek. Waar ons gaan oornag of hoe ons program gaan loop was alles deel van die "explore".

 Hier het ons alreeds die diversiteit in die streek ervaar, van `n laagliggende woongebied het ons begin klim, deur bloekom plantasies, en ander inheemse woude tot by `n uitsig oor die "Great Lakes" wat `n gesig, en hierdie is natuurlike forel wêreld, dit was moeilik om hierdie geleentheid te laat verbygaan, maar dit moes wag tot `n volgende keer. Wat my opgeval het was die groot hoeveelheid dooie wallybies, `n klein tipe kangaroe, wat langs die paaie gelê het.

Op Hobart aangekom het die "ontdekkingsreis" eers begin, ons het `n motorwoonwa gehuur sonder om die fynskrif mooi deur te lees en dit het ons later `n hele paar Australiese dollar uit die sak gejaag het.

En daar begin ons reis toe in alle erns. Ons eerste bestemming was die Tasmaniese Skiereiland (Tasman Peninsula)
foto 1: `n Deel van die skiereiland met `n uitsig oor die "Tasman sea" met loodregte kranse wat in die see inloop.



Ons het besluit om so ver as moontlik die skiereiland te verken en het deur dorpe soos Sorell en Dunalley gereis op soek na ons eerste oornag plek, ons bestemming was baie naby aan Port Arthur waar ons die nag in `n woonwapark oornag het, na `n lekker kuier om die vuur was dit ons eerste slaap in `n motorwoonwa in Tasmanië.

Volgende keer gesels ek oor ons tweede dag en die verrassing wat Port Arthur opgelewer het.

Groete Adriaan