Saturday, 5 January 2013

Die wonder van ontdek : Tasmanië : 4

"How beautifull it is to do nothing, and then rest afterwards"   Spanish Proverb

Wel dit som omtrent ons aand by Coles Bay op, maar dit is `n nuwe dag en die son se strale trek lang blink strepe oor die gladde Tasman see, dit is tyd om aan te beweeg en `n nuwe dag lê vir ons en wag.

Ons rigting is steeds noord en ons bestemming onbekend.

Dag 4 : Coles Bay tot by St Helens

Vanaf Coles Bay is die eerste dorp Bicheno, daar maak ons `n stop om die "blow hole" van nader te bekyk, die natuurlike pyp wat onder die rotsformasie gevorm is blaas `n misboog uit met elke golf wat inkom.

Van Bicheno ry ons ook deur St Mary`s en Scamander tot by St Helens waar ons oornagplek soek,  na ons Kamp opgeslaan het by St Helens is dit tyd vir "explore"

St Helens is die grootste dorp aan die noord-ooskus van Tasmanië en word begrens deur Georges Baai. St Helens is ook bekend vir roofvis hengel en oesters.




Ons stap tot by die hawe en geniet `n glasie wyn met `n uitsig oor die vissersbote wat in die hawe waghou. Ons geniet ook die vars vis op die drywende restaurant langs die kaai.

Dag 5 : St Helens oor Launceston tot by Beauty Point.

" The first condition of understanding a foreign country is to smell (and taste) it " Rudyard Kipling , OK die "taste" het ek self bygevoeg maar ek glo Rudyard sal my vergewe vir die byvoeging. Oor die volgende twee dae gaan ons nie net kyk nie maar ook proe aan die lekker wat die omgewing bied.

Ons reis het rigting verander en ons toer nou weswaarts na Launcheston oor derby,  die omgewing verander nou vinnig en ons begin klim deur bergwêreld en boomryke woude totdat ons weer begin daal na Launcheston.

Op Launcheston aangekom beplan ons `n toer deur die wynplase, die omgewing met groot riviere en groen heuwels waarteen herfskleurige wingerde met skakerings van groen, geel en rooi  kleurskakerings strek, is prentjiemooi.

Die wynplase laat my baie dink aan Stellenbosch, Suid Afrika en die proe gaan ook goed aan. Na `n ete op een van die wynplase is dit tyd om te groet.


Ons oornag plek is Beauty Point langs die Tamarrivier, met George Town aan die oorkantse oewer, die dag sluit af met sonsondergang oor die rivier en `n  gevoel van vervulling oor nog `n fantastiese dag.

Tot later

Adriaan







Wednesday, 2 January 2013

Die Wonder van ontdek : Tasmanië : 3

"The real voyage of discovery consist not in seeking new landscapes but in having new eyes"
  Marcel Proust

Is dit nie so waar nie, om te ontdek moet ons met nuwe oë na die wêreld om ons kyk en ons sal die wonder van God se skepping in die natuur raaksien en waardering hê vir dit wat ons sien.

Dag 3 : Swansea tot by Coles Bay

Ons verlaat Swansea met `n lus vir die dag wat voor ons lê, tot op hierdie stadium van ons reis was ons redelik passief en dit was tyd vir `n behoorlike stap om van al die energie ontsla te raak en om nader aan die natuur te kom.

Ons maak `n vinnige draai in Coles Bay, maar ons doel is om die Freycinet Nasionale Park te gaan ontdek. Freycinet Nasionale Park is vernoem na die Franse Navigator Louis de Freycinet en is `n skiereiland met spierwit strande en graniet berge.

Die uitkykpunt gee vir ons die groter prentjie van die omgewing en ons verkyk ons aan die wonderlike natuurskoon.

Die roete wat ons gaan stap is die "Wineglass Bay Lookout" roete en ons val in die pad, die roete is redelik maklik en goed gemerk, en ons vorder vinnig tot by die uitkykpunt, by Wineglass Bay uitkykpunt word ons oorweldig deur die fantastiese uitsig, beslis een van die mooiste plekke op my lysie.

En nie sonder rede nie, die Amerikaanse tydskrif  "Outside" het Wineglass Bay aangewys as een van die top tien strande in die wêreld.

                                            Uitsig oor Wineglass Bay vanaf uitkykpunt
 
Die uitsig was great, maar om kaalvoet op die strand te loop was eers lekker, spierwit sand en blou water.
 Hazards Strand met Refuge Island in die verte
Die lang stap terug het ons bietjie onkant gevang maar die "scenery" het opgemaak en toe sien ons sommer ons eerste Wallaby in die natuur.


Die swartmossels roep ! Op pad na ons oornagplek was daar `n swartmossel-plaas en ons kon nie daar verbyry nie. En toe eet ons swartmossels in tamatie-puree saam met vars brood in die Coles Bay conservation area.

 Net ons die see en die mossels.

Groete tot later.

Adriaan










 


Tuesday, 1 January 2013

Die wonder van ontdek: Tasmanië : 2

Albert Einstein het gesê " Vreugde in waarneming en begryping is die natuur se mooiste geskenk" en dit is presies wat ons ervaar het in Tasmanië, die vreugde om die natuur  waar te neem en te ervaar.

Dag 3: Tasmanië : Port Arthur tot by Swansea

Dag drie begin met koffie en `n uitsig oor die Tasman skiereiland voordat ons die pad vat die onbekende in, ons roete is die Tasman hoofweg ons rigting is noord al langs die oostelike kus van Tasmanië op met die Tasman see aan ons regterkant terwyl ons toer.

Die wêreld hierlangs het meer afgeplat en die berge lê in die verte maar die natuurskoon bly mooi veral met die ongerepte natuur en see en veral die feit dat daar relatief min ontwikkeling is maak dit baie mooi, op ons roete het ons weer deur Sorell gery daarna Triabunna en by Swansea het ons besluit dit is waar ons gaan oornag.

Kreef en `n kampvuur op die strand by Swansea :

Op die hoofroete by Swansea op die hoek van Maria weg en die Tasman hoofweg sien ons die Sea Food Cafe en ons besluit net daar om later terug te kom vir seekos. Ons kry `n staanplek by die Swansea caravan park en bsluit om daar te anker vir die nag.

Ons staanplek was op die baai met `n lieflike uitsig oor die see en veral die sonsondergang was asemrowend mooi.

Ons stap later langs die see maar ons gedagtes was by die seekos en teen hierdie tyd was ons lekker honger en ons stap sommer na die Sea Food Cafe, daar was baie lekker vars vis maar `n reuse kreef trek ons aandag en besluit net daar om kreef te braai vir aandete.

                                          Uitsig oor die "Great Oyster Bay"          
 
Daardie aand maak ons `n kampvuur op die strand en braai die kreef oor die kole, Suid Afrika styl, wat `n plesier, ons het tot laat gekuier en die stilte en natuur geniet.
 
Die volgende oggend het hierdie sonsopkoms ons gegroet
                                                                                                                                        
Om so wakker te word was `n belewenis en `n voorreg. Met koffie in die hand en `n uitsig oor die strand wat kan `n mens meer vra.
Ons volgende bestemming was Coles Bay maar daaroor kuier ek volgende keer.
 
Groete Adriaan