Tuesday, 19 May 2015

Nagmaal op Rustenburg

                              

Die reuk van anysbeskuit en gepekelde vleis hang nog sterk in die kombuis terwyl Oom Aal die dover stofie stook om die koffie reg te kry voor die trek na Rustenburg waar die jaarlikse nagmaal fees gevier gaan word, Tannie Ella het ook net wakker geword van die gewerskaf in die kombuis en trek opgewonde aan vir die reis wat voorlê.

Hierdie is `n groot geleentheid en daar word weke lank voorberei vir die trek, die karmenaadjie wat oom Tiekie gestuur het, lê nou al vir twee weke in die sout pekel en is reg vir gebruik. Oom Tiekie het sy bynaam gekry omdat hy altyd tiekies aan die kinders uitdeel om drop en suikerlekkergoed by die Indiër winkel te gaan koop.

Die gebruik om karmenaadjies te stuur is `n tradisie wat al jare deur die boere gemeenskap gehou word wanneer daar geslag word, dan word `n porsie vleis aan al die bure gestuur na daar geslag is, so is dit dan dat daar gereeld vars vleis in die huis is.

Die reuk van vars gemaalde koffie wat op die dover begin prut vul die hele huis met `n aroma wat so eie is aan `n plaaskombuis. Oom Aal skink vir hom en tannie Ella elkeen `n beker koffie en verlustig hom aan sy vrou se beskuit wat die vermoë het om `n koppie koffie half leeg te suig.

Buite is ou Jantjie besig om die osse aan te keer, hy is al vir jare oom Aal se  touleier en wanneer daar getrek word is hy daar. Die osse staan traag op uit hulle warm gebroeide lêplekke toe die eerste sweepslag val en stoom trek soos klein vulkane uit die warm mis op terwyl die osse aangekeer word na hulle plekke voor die wa,



Die kinders word een,een wakker en kom met hulle lang slaaprokkies die kombuis in om die hitte van die dover stoof op te soek, die tweeling Hettie en Truia is eerste op van die vyf sussies en vryf hulle koue hande warm voor die stoof." Gaan maak julle ander susters wakker" sê hul pa"en kry julle komberse op die wa ons is amper reg om te vertrek." Oom Aal is `n streng man en daar word nie teëgepraat nie., die ander drie susters Sarie, Nellie en Ans staan traag op en begin hulle beddegoed reg kry.

Dit is nog vroeg en die eerste koue in meimaand is reeds geniepsig, die dogters hou hulle slaaprokke aan en gaan klim sommer met komberse en al in die wa waar hulle,hulle self tuismaak tussen al die koekblikke met beskuit en kosvoorraad vir die reis.

Die wa gee `n ruk toe die eerste sweepslag val en die osse stadig in beweging kom, die jukke druk voue in die osse se skowwe soos hulle beur om die wa in beweging te bring. Die horison begin reeds verkleur in skakerings van rooi en oranje toe die wa die ou koetspad Rustenburg toe vat.

Oom Aal en tannie Ella sit styf teenmekaar soos twee verliefdes op die wakis,elkeen besig met hulle eie gedagtes terwyl die eerste strale van die son oor die vlaktes deurbreuk.

Oom Aal haal sy pyp uit en stop dit langsaam voor hy dit aansteek en die verte in tuur, hy druk sy hoed half agter op sy kop, hoeveelste trek is dit hierdie, dink hy, en trek aan sy pyp. Die ritmiese geskud van die wa het die dogters lankal terug gestuur droomland toe en hulle lê styf langs mekaar ingeruig in die beperkte ruimte van die ou kakebeenwa. "Kry ons nie koffie nie, die son sit mos nou al hoog ma." sê oom Aal en loer na sy vrou met `n stoute trek op sy mond.

Die vyf dogters word later almal wakker en speel met hulle poppe, "ons is honger ma, sê Nellie"en kyk na haar ma "ons gaan nou uitspan" antwoord oom Aal namens sy vrou en dryf die osse voort, die reuk van stof hang in die lug soos die osse deur die stofpad beur. Uitspan is deel van die trek en daar word altyd met verwagting uitgesien na al die lekker eetgoed wat met sorg voorberei is, vars boerebrood met botter en konfyt, koue bron wat in dik skywe gesny is en natuurlik koffie.

Toe die wa uiteindelik tot stilstand kom is die dogters eerste af en hardloop uitgelate rond om van al die energie ontsla te raak, vir hulle is die jaarlikse trek `n hoogtepunt van die jaar en hulle kan nie wag om hulle maats weer te sien nie, "julle kan maar kom eet" roep ma Ella en die dogters kom haastig nader "ek hou nie van bron nie" kla Sarie en trek haar neus op `n plooi. Ou Jantjie staan ook nader en kla glad nie oor die bron wat die kleinnooi nie wil hê nie, "die son trek water " se oom Aal en trek homself op teen die wa nadat hulle klaar geëet het.

Dit is reeds laat middag toe die kerktoring soos `n naald op die horison verskyn , die osse word harder gedryf vir die laaste ent. Die vyf dogters sit nou almal voor in die wa, maar toe die wa  in kerkstraat indraai spring Hettie en Sarie af en begin langs die wa drafstap, spore in die stofpaaie lei almal na die middel van die dorp waar die kerkgebou soos `n vors waghou oor die dorp.

Toe Oom Aal se wa die laaste draai maak en by die kerk se kampterrein indraai is daar reeds orals mense wat in groepies om groot swartpotte staan en gesels, van die ou bekendes kom dadelik nader om te kom groet en hand te gee met die osse. Oom Aal en Tannie Ella groet eers al die bekendes en al die nuus word uitgeruil. " Jantjie, jy kan maar die osse uitspan en kraal toe vat en sorg dat daar water in die krippe is" sê Oom Aal en slaan die stof uit sy hoed teen die wawiel.

Die kinders kom oral in groepies saam en speel luidrugtig speletjies tussen die waens, daar heers `n feestelike atmosfeer en die geur van mieliepap en gebraaide vleis hang swaaer in die lug. Dit is Saterdagaand en môre is dit nagmaal op Rustenburg.

Oom Aal het die gewoonte om eers deur die hele kamp te loop en al die mense te groet, "nou van watter de Wet`s is julle" vra hy, en so word daar familie uitgelê en nuwe vriendskappe gesmee, die groot bespreking is altyd droogte en reën en hoe dit met die boerdery gaan.

Laat die nag is daar slegs `n paar ligte wat in die waens brand,`n  hond blaf knaend in die verte en `n stilte daal oor die kamp neer.

Sondag oggend, nagmaal sondag, en almal is in rep en roer om reg te maak vir nagmaal, " waar het ma my nuwe rok gesit'' vra Truia en kyk ongelukkig na die ander susters wat reeds hulle nuwe kerk rokke aanhet, " kyk onder in die wakis" se tant Ella " ek moes nog gisteraand `n laaste steek insit," "maak net gou ons is amper laat."

Die kerkklok lui al met mening en die koster staan pen orent met sy manelpak soos `n wafferse hofknaap en trek angstig aan die kloktou, ou Dominee is reeds in die kerkkantoor en help met die nagmaalwyn, die ouderlinge en diakens met hul swart en blink gestrykte pakke staan eerbiedig rond.

Ou dominee kom voor die kansel tot stilte voor die diens begin en hy trek die laaste plooie uit sy toga voordat hy statig met die trappies van die kansel opklim, toe hy bo staan en op die gemeente afkyk, deurgrond sy blik elke man, vrou en kind voor hom , hy slaan die ou statebybel oop en begin lees uit 1 Kor 11: 23 "Want ik heb van den Heere ontvangen , hetgeen ik ook u overgeven het, dat de Heere Jezus in den nacht, in welken Hij verraden word, het brood nam......."  `n stilte hang in die gemeente en net die gehoes van `n ouderling in die banke verbreek die heilige atmosfeer,

Dit is nagmaal op Rustenburg !









Friday, 8 May 2015

Die wonder van ontdek : Tasmanië: Laaste trek

" It is good to have an end to journey toward, but it is the journey that matters in the end"
  Ernest Hemmingway

Elke deel van `n land het sy eie bekoring en dit is nie altyd die indrukwekkende waterval of die hoogste berg nie, maar die eenvoud van `n uitgestrekte grasveld en die stilte  van `n afgeleë vlakte wat die grootste bekoring inhou. Wat ons in Tasmanië ervaar het was `n nuwe ontdekking van diversiteit in natuur en mens.

Ons vertrek vanaf Strahan met `n swaar hart en vat die pad Queensland toe, die omgewing verander nou vinnig en plat meer af, uitgrestrekte grasvelde en bloekombome wat die agterhoede dek is algemeen.

Die verskeidenheid van plantegroei en leefwyse van mense  in Tasmanië is wat dit so interresant maak om hierdie eiland te toer, ons kon elke dag sien hoe die omgewing verander en ook besluit waar ons gaan kamp en watter roete ons gaan volg.


Ons besluit om die laaste nag in die Freicenet National Park te gaan kuier. Op pad na die park is daar natuurtonele wat wissel van grasvelde , berge en mere. Hierdie binnelandse meer met bome omring, wat reeds hulle herfsdrag begin aantrek het,was baie spesiaal.


 Die indrukke op toer soos hierdie is blywend en lank nadat die reis tot `n einde gekom het word elke spesiale indruk wat nie alltyd deur `n foto tot sy reg kom nie, gebruik om die hele reis weer oor te beleef.
















Freicenet National Park
Wat `n afsluiting na `n woderlike toer deur Tasmanië, die park verras ons met sy reuse bome waaronder ons kon kamp opslaan. ons het ook die voorreg gehad om `n Platepus in die natuur te sien, `n vreemde soogdier wat min mense die geleentheid kry om in sy natuurlike habitat te sien. Na `n staptoer deur die woud met nog groter bosreuse is dit ons laaste aand in ons gehuurde motorhuis, wat `n toer ! wat `n ervaring ! en ek kan net afsluit met hierdie woorde:




" We live in a wonderful world that is full of beauty, charm and adventure.  There is no end to the adventures we can have if only we seek them with our eyes open." J Nehru

Thursday, 7 May 2015

Drie honger dogtertjies en die geelperskes.

 

            Die verhaal van drie honger dogtertjies en die geelperskes


Hierdie is `n ware verhaal wat afgespeel het in die Brits distrik op die plaas Soutpansdrif onder die Langeberg soos aan my oorvertel deur my moeder.

Dit was swaar tye en die droogte het die Brits distrik  in `n wurggreep van armoede en elende gedompel. In hiedie tye het my oupa aan my moeder se kant, Adriaan Willem Janse van Rensburg, beter bekent as Oom Aal, `n plaas onder die Langeberg besit en daar `n bestaan gemaak.

 Maar droogte is `n lelike ding en daar is net mooi niks wat mens en dier kon doen om dit te verander nie, dit was `n tyd waar elke boer in die distrik van die genade van die Here afhanklik was en besef het hoe feilbaar die mens in sulke uiterste omstandighede is.

Die gebied onder die Langeberg is deur besproeiings kanale uit die Hartbeespoort dam gevoed en toe die dam opdroog en die water in die kanale tot stilstand kom was dit soos `n laaste snik van wanhoop deur `n weemoedige traan wat opdroog teen `n droë wang.

Saam met die droogte het ook ander nood gevolg, kos was skaars en water moes aangekoop word per emmer, daar is  betaal per emmer en dan moes die water aangedra word, badwater was `n luukse en daar moes op elke denkbare manier water gespaar word.

So dikwels laat ons sommer `n kraan onnodig loop, want daar is mos genoeg water, maar water is `n kosbaar, en eers wanneer daar droogte uitbreek verstaan ons werklik hoe afhanklik ons van water is.

Maar die werklike drama het afgespeel in die van Rensburgs se huis, daar was nie genoeg kos nie en geld was skaars en dit is toe waar die verhaal van genade en ontferming  gestalte gekry het.

Nie ver van waar die van Rensburgs geboer het, was `n man wat met geelperskes geboer het, en drie van die van Rensburg dogtertjies is met `n mandtjie gestuur om geelperskes te gaan koop, `n volle halfkroon vir `n mandjie perskes, dit was baie geld in daardie dae en dit het maar raap en skraap gekos om dit bymekaar te kry.

By die boer aangekom was hulle bleek van die honger en die gesig van geil geelperskes aan die takke het hulle monde behoorlik laat water,en soos `n kind maar is wou hulle eers dadelik weglê aan die perskes, maar nee, hulle mag geen perskes eet nie en slegs die mandtjie waarvoor hulle betaal het vol pluk.

Ek weet nie hoe dit voel om vrugte te pluk en nie een of twee te eet terwyl jy pluk nie, veral as jy honger is, maar dit is presies wat hierdie drie dogtertjies moes deurstaan.

Die eienaar van die boord het op die stoep gestaan en hulle beveel om geen perskes te eet nie,dit was  soos om `n bord kos voor `n honger kind neer te sit en dan te sê jy mag nie eet nie. Die drie dogtertjies is streng grootgemaak en hulle het die man se versoek gehoorsaam.




Terwyl hulle besig was om te pluk het daar skielik `n donker wolk verskyn en binne oomblikke was die kinders in `n wolk van trekspringkane vasgevang, dit was benoude oomblikke maar binne `n paar minute was die springkane weg en het die dogtertjies tussen honderde geelperskes, wat deur die springkane afgevreet is, en toe op die grond lê, gestaan.

Vir die boer was dit `n ramp, maar vir die drie honger dogtertjies was dit `n oomblik van voorsiening, want toe het die boer gesê hulle kan soveel perskes eet en vat as wat hulle wou, en omdat die springkane slegs die stingel van die perskes afgeknaag het, het die perskes self geen skade gehad nie.

Dit klink na `n eenvoudige gebeurtenis, maar op daardie oomblik, was dit vir daardie drie dogtertjies `n wonderwerk, so asof die Here hulle nood raak gesien het, en vir hulle die sluise van die hemel oopgemaak het.

Ek glo in my hart dat die God wat ons dien, ook`n God is van die klein dingetjies en dat Hy op daardie oomblik die nood van `n honger kind raakgesien het.


Ek groet tot later.
Adriaan