Tuesday, 19 May 2015

Nagmaal op Rustenburg

                              

Die reuk van anysbeskuit en gepekelde vleis hang nog sterk in die kombuis terwyl Oom Aal die dover stofie stook om die koffie reg te kry voor die trek na Rustenburg waar die jaarlikse nagmaal fees gevier gaan word, Tannie Ella het ook net wakker geword van die gewerskaf in die kombuis en trek opgewonde aan vir die reis wat voorlê.

Hierdie is `n groot geleentheid en daar word weke lank voorberei vir die trek, die karmenaadjie wat oom Tiekie gestuur het, lê nou al vir twee weke in die sout pekel en is reg vir gebruik. Oom Tiekie het sy bynaam gekry omdat hy altyd tiekies aan die kinders uitdeel om drop en suikerlekkergoed by die Indiër winkel te gaan koop.

Die gebruik om karmenaadjies te stuur is `n tradisie wat al jare deur die boere gemeenskap gehou word wanneer daar geslag word, dan word `n porsie vleis aan al die bure gestuur na daar geslag is, so is dit dan dat daar gereeld vars vleis in die huis is.

Die reuk van vars gemaalde koffie wat op die dover begin prut vul die hele huis met `n aroma wat so eie is aan `n plaaskombuis. Oom Aal skink vir hom en tannie Ella elkeen `n beker koffie en verlustig hom aan sy vrou se beskuit wat die vermoë het om `n koppie koffie half leeg te suig.

Buite is ou Jantjie besig om die osse aan te keer, hy is al vir jare oom Aal se  touleier en wanneer daar getrek word is hy daar. Die osse staan traag op uit hulle warm gebroeide lêplekke toe die eerste sweepslag val en stoom trek soos klein vulkane uit die warm mis op terwyl die osse aangekeer word na hulle plekke voor die wa,



Die kinders word een,een wakker en kom met hulle lang slaaprokkies die kombuis in om die hitte van die dover stoof op te soek, die tweeling Hettie en Truia is eerste op van die vyf sussies en vryf hulle koue hande warm voor die stoof." Gaan maak julle ander susters wakker" sê hul pa"en kry julle komberse op die wa ons is amper reg om te vertrek." Oom Aal is `n streng man en daar word nie teëgepraat nie., die ander drie susters Sarie, Nellie en Ans staan traag op en begin hulle beddegoed reg kry.

Dit is nog vroeg en die eerste koue in meimaand is reeds geniepsig, die dogters hou hulle slaaprokke aan en gaan klim sommer met komberse en al in die wa waar hulle,hulle self tuismaak tussen al die koekblikke met beskuit en kosvoorraad vir die reis.

Die wa gee `n ruk toe die eerste sweepslag val en die osse stadig in beweging kom, die jukke druk voue in die osse se skowwe soos hulle beur om die wa in beweging te bring. Die horison begin reeds verkleur in skakerings van rooi en oranje toe die wa die ou koetspad Rustenburg toe vat.

Oom Aal en tannie Ella sit styf teenmekaar soos twee verliefdes op die wakis,elkeen besig met hulle eie gedagtes terwyl die eerste strale van die son oor die vlaktes deurbreuk.

Oom Aal haal sy pyp uit en stop dit langsaam voor hy dit aansteek en die verte in tuur, hy druk sy hoed half agter op sy kop, hoeveelste trek is dit hierdie, dink hy, en trek aan sy pyp. Die ritmiese geskud van die wa het die dogters lankal terug gestuur droomland toe en hulle lê styf langs mekaar ingeruig in die beperkte ruimte van die ou kakebeenwa. "Kry ons nie koffie nie, die son sit mos nou al hoog ma." sê oom Aal en loer na sy vrou met `n stoute trek op sy mond.

Die vyf dogters word later almal wakker en speel met hulle poppe, "ons is honger ma, sê Nellie"en kyk na haar ma "ons gaan nou uitspan" antwoord oom Aal namens sy vrou en dryf die osse voort, die reuk van stof hang in die lug soos die osse deur die stofpad beur. Uitspan is deel van die trek en daar word altyd met verwagting uitgesien na al die lekker eetgoed wat met sorg voorberei is, vars boerebrood met botter en konfyt, koue bron wat in dik skywe gesny is en natuurlik koffie.

Toe die wa uiteindelik tot stilstand kom is die dogters eerste af en hardloop uitgelate rond om van al die energie ontsla te raak, vir hulle is die jaarlikse trek `n hoogtepunt van die jaar en hulle kan nie wag om hulle maats weer te sien nie, "julle kan maar kom eet" roep ma Ella en die dogters kom haastig nader "ek hou nie van bron nie" kla Sarie en trek haar neus op `n plooi. Ou Jantjie staan ook nader en kla glad nie oor die bron wat die kleinnooi nie wil hê nie, "die son trek water " se oom Aal en trek homself op teen die wa nadat hulle klaar geëet het.

Dit is reeds laat middag toe die kerktoring soos `n naald op die horison verskyn , die osse word harder gedryf vir die laaste ent. Die vyf dogters sit nou almal voor in die wa, maar toe die wa  in kerkstraat indraai spring Hettie en Sarie af en begin langs die wa drafstap, spore in die stofpaaie lei almal na die middel van die dorp waar die kerkgebou soos `n vors waghou oor die dorp.

Toe Oom Aal se wa die laaste draai maak en by die kerk se kampterrein indraai is daar reeds orals mense wat in groepies om groot swartpotte staan en gesels, van die ou bekendes kom dadelik nader om te kom groet en hand te gee met die osse. Oom Aal en Tannie Ella groet eers al die bekendes en al die nuus word uitgeruil. " Jantjie, jy kan maar die osse uitspan en kraal toe vat en sorg dat daar water in die krippe is" sê Oom Aal en slaan die stof uit sy hoed teen die wawiel.

Die kinders kom oral in groepies saam en speel luidrugtig speletjies tussen die waens, daar heers `n feestelike atmosfeer en die geur van mieliepap en gebraaide vleis hang swaaer in die lug. Dit is Saterdagaand en môre is dit nagmaal op Rustenburg.

Oom Aal het die gewoonte om eers deur die hele kamp te loop en al die mense te groet, "nou van watter de Wet`s is julle" vra hy, en so word daar familie uitgelê en nuwe vriendskappe gesmee, die groot bespreking is altyd droogte en reën en hoe dit met die boerdery gaan.

Laat die nag is daar slegs `n paar ligte wat in die waens brand,`n  hond blaf knaend in die verte en `n stilte daal oor die kamp neer.

Sondag oggend, nagmaal sondag, en almal is in rep en roer om reg te maak vir nagmaal, " waar het ma my nuwe rok gesit'' vra Truia en kyk ongelukkig na die ander susters wat reeds hulle nuwe kerk rokke aanhet, " kyk onder in die wakis" se tant Ella " ek moes nog gisteraand `n laaste steek insit," "maak net gou ons is amper laat."

Die kerkklok lui al met mening en die koster staan pen orent met sy manelpak soos `n wafferse hofknaap en trek angstig aan die kloktou, ou Dominee is reeds in die kerkkantoor en help met die nagmaalwyn, die ouderlinge en diakens met hul swart en blink gestrykte pakke staan eerbiedig rond.

Ou dominee kom voor die kansel tot stilte voor die diens begin en hy trek die laaste plooie uit sy toga voordat hy statig met die trappies van die kansel opklim, toe hy bo staan en op die gemeente afkyk, deurgrond sy blik elke man, vrou en kind voor hom , hy slaan die ou statebybel oop en begin lees uit 1 Kor 11: 23 "Want ik heb van den Heere ontvangen , hetgeen ik ook u overgeven het, dat de Heere Jezus in den nacht, in welken Hij verraden word, het brood nam......."  `n stilte hang in die gemeente en net die gehoes van `n ouderling in die banke verbreek die heilige atmosfeer,

Dit is nagmaal op Rustenburg !









No comments:

Post a Comment