Sunday, 30 December 2012

Die wonder van ontdek: Tasmanië; 1

Om werklik `n nuwe plek te ontdek verg dikwels meer as om net deur te reis en te kyk, dit verg tyd, baie tyd, en dit is nie altyd beskikbaar nie ! In ons geval was ons plan om `n groot deel van Tasmanië in sewe dae te sien, wel om `n groot deel te sien was moontlik, maar om werklik die land en al die diversiteit wat dit bied te ervaar was nie moontlik nie, maar by Port Arthur was dit anders!

Dag Twee: Port Arthur ; Tasmanië

 
Op Port Arthur het die tyd stil gaan staan en het ons verlore geraak in die geskiedenis van `n plek met groot historiese waarde nie net vir Australië nie maar vir die hele internasionale gemeenskap, want  u sien Port Arthur was  baie meer as `n tronk, dit was `n hele gemeenskap met `n  invloed wat wyd gestrek het.

Port Arthur was die woonplek van militêre personeel en vry setlaars, politieke gevangenis maar dit was hoofsaaklik `n tronk en daarom het baie van die aktiwiteite rondom die gevangenis gedraai en die meeste van die 30 geboue was daar om die gevangenis te huisves en besig te hou, nee baie meer as besig te hou, daar is van lanbou tot industrië gevestig wat `n groot verskeidenheid hulpbronne en materiaal geproduseer het.

Op Sondag 28 April 1996, is `n tragiese hoofstuk tot Port Arthur se geskiedenis gevoeg toe `n gewapende man die lewens van 35 mense geneem het en 19 ander gewond het in en om Port Arthur.

Agtergrond:
Die Port Arthur strafkamp was gevestig in 1830 as `n hout verkrygings kamp, en gevangenis is gebruik om stompe in werkbare planke op te saag vir goewermentsprojekte. Van 1833 was Port Arthur as `n strafkamp vir herhaalde oortreders van al die Australiese kolonies gebruik.

Die Engelse gevangenis hervormer Jeremy Bentham het op daardie stadium `n radikale nuwe tughuis of tronk in Pentonville, Engeland ontwikkel wat hy beskryf het as `n masjien om skurke in eerbare mense te verander deur hulle deur die maalproses van sy model te vat, en hierdie het die model vir Port Arthur geword.

Die ratte van hierdie masjien het dissipline en straf, morêle en geestelike instruksies, klassifikasie en afsondering en opleiding en opvoeding ingesluit. Baie van hierdie mense en veral manne is deur hierdie proses gebreek, maar ander het Port Arthur verlaat as gerihabiliteerde en bekwame manne, sommige as grofsmede, skoenmakers en skeepsbouers.

Daar is soveel hartseer verhale en verhale van
hoop en verwagting dat `n enkele dag beslis nie genoeg is om hierdie gekiedkundige plek te ontdek nie.

Een van die tronke wat ons besoek het was die "Seperate prison" waar al die ernstige misdadigers aangehou is, hier het `n vreemde gevoel ons oorweldig en ons kon die smart en lyding wat daar deurgemaak is ervaar. Een van die strafmaatreëls was totale stilte en geen kommunikasie is toegelaat nie, selfs die bewaarders het gebare taal gebruik gebruik om mee te kommunikeer, al wat hoorbaar was, was die klank van grendels,slotte en kettings.

Die tuine en omgewing is asemrowend mooi en net om deur hierdie geskiedkundige plek te stap was `n belewenis wat lank onthou sal word. Die tyd wat ons daar spandeer het was elke oomblik die geld en moeite werd. Dankie D & E

bronne: Visitors Guide, Port Arthur Historic Site.
              Persoonlike ervarings en foto`s

Groete tot volgende keer.

Adriaan





No comments:

Post a Comment