"All the things of the universe are perfect miracles each as profound as any."
Walt Whitman
Om die vars skoon lug van die Cradle Mountains vroeg in die oggend in te asem en te weet vandag is `n nuwe dag vol nuwe ontdekkings en nie net die natuur jou oë waar te neem nie maar dit ook met jou hart te beleef is `n iets wat ek weer in hierdie berge sal wil doen.
Ons dag begin met nuwe paaie wat ons lei na onbekende plekke en die opwinding van ontdek is soos `n perd wat uit sy stal breek en die vryheid in hardloop.
Die berge omring ons en in die verte kon ons die sogenaamde "Walls of Jerusalem" sien uittroon, daar is digte mis oor die berge en dit dra by tot die mistiek van die rit.
Vandag ry ons weswaarts en dan algemeen suidwaarts deur die dorpe Rosebery, Zeehan en dan ons eindbestemming vir die dag Strahan, by Strahan aangekom parkeer ons die motorhuis en begin "explore"
Strahan het ons werklik verras, dit is een van die mooiste dorpe op ons reis deur Tasmanië, die blou waters van die "Macquanrie Harbour" en die rustigheid van die dorp met `n ou- wêreldse argitektuur, immergroen bome, wandelpaaie en die weerkaatsing van boot en kaai op die waters skep `n gevoel van harmonie tussen natuur en mensgemaakte ontwikkeling.
Wat `n voorreg om dit te kon beleef en hierdie lieflike dorp aan die Weskus van Tasmanie te kon ontdek.
Strahan bied `n verskeidenheid van doen-dinge en ek wens ons kon vir `n week hier bly en alles meer intensief beleef.
Een van die baie interresante verskynsels wat ons hier teegekom het is die Huon hout wat hier voorkom, dit is `n unieke hout wat hulle hier ontgin het en wat ook `n groot rol gespeel het in die skeepsbou bedryf. Om in `n "off cut bin" rond te krap vir `n stukkie van die hout en dan jou 1$ in `n "honesty bin" te gooi en te weet hierdie is deel van `n boom wat dalk 3000jaar oud was.
Huon Pine is een van die stadig groeiende en langslewende plante in die wêreld en kan tot 3000 jaar of langer lewe. Wat dit so uniek maak is `n olie in die bome wat die groei van fungi in die hout beperk en wat dit baie geskik maak vir skeepsboudoeleindes. Huon Pine kom net in die weste van Tasmanië voor en nie ver van Strahan af nie.
Verder is Strahan die poort na die Gordon rivier en Tasmanië se wêreld erfenis gebied, dit was en is steeds van die hoogtepunte op ons besoek aan Tasmanië.
Die dag eindig met `n sonsondergang en `n bord seekos wat my sterk terug laat verlang !
Strahan ons sal jou onthou en gaan weer terugkom.
Groete tot volgende keer.
Adriaan
No comments:
Post a Comment